Smithfield begin eie kunstefees

Toetslopie vir akteurs op pad na Grahamstad

ELRETHA BRITZ

Maandag 06 Mei 2013

David Butler is Bram Fischer in The Bram Fischer Waltz

David Butler is Bram Fischer in The Bram Fischer Waltz

 

OP Smithfield ontspring vanjaar ’n kunstefees uit vertonings en akteurs wat op pad na die jaarlikse Nasionale Kunstefees in Grahamstad deur dié Suid-Vrystaatse dorp ry.

“Platteland Preview begin klein, maar ons hoop dit sal die dorp se ekonomie en toerisme bevorder, terwyl teatergangers ’n kykie kry in die werk wat in Grahamstad aangebied word,” sê Zaza Pieterse, ’n lid van die fees se bestuurskomitee.

Die voordeel wat dié samewerking met die Nasionale Kunstefees vir akteurs en tegniese spanne inhou, is ’n geleentheid om hul werk voor ’n gehoor te toets voordat dit in Grahamstad in die fel kollig geplaas word.

Stalletjies, laataand vermaak in restaurante en gastehuise wat die rooitapyt uitrol, sal help om ’n feestelike atmosfeer te skep.

Carmel Rickard, die dryfveer en voorsitter van die fees, sê sy het reeds ’n program saamgestel, hoewel dit nie “absoluut finaal” is nie. Sy wag nog vir aansoeke vir produksies wat in die voorkamers van private huise of gastehuise aangebied kan word. Dié konsep het op Darling in die Wes-Kaap ontstaan waar ’n Voorkamerfees jaarliks aangebied word.

Die hoofproduksie op Smithfield is The Bram Fischer Waltz, ’n solostuk deur die gevierde akteur David Butler wat verlede jaar op die Vryfees in Afrikaans gedebuteer het. Harry Kalmer, die skrywer, het intensiewe navorsing gedoen vir dié werk wat hy in opdrag van die Vryfees geskryf het. Fischer was ’n Afrikaner-kommunis, Vrystater in murg en been en ’n advokaat wat oudpres. Nelson Mandela van die galg gered en toe self in die tronk beland het. Sy uitsonderlike lewe ontvou in dié aangrypende drama. Die stuk is in Engels vertaal vir Grahamstad, maar as Rickard haar sin kry, sal Butler een van die twee vertonings op Smithfield in Afrikaans doen.

Ander produksies wat in Platteland Preview verwag kan word:

1WayCrew, ’n energieke vertoon van hip-hop uit Limpopo.

Angels and aliens, ’n komedie deur Andrew Simpson, wat ’n verbeeldingryke reis na die spirituele en bonatuurlike wêreld neem om twee sielsmaats bymekaar te bring.

Beefcake is ’n solovertoning oor Ace, ’n slagter se seun, wat gereed maak vir die begrafnis van sy pa, Kenneth Hlope. Hy was ’n gerespekteerde man totdat drank en dobbel sy ondergang beteken het. Dié drama met komiese momente word ook in die plaaslike skool opgevoer waar aktiewe belangstelling in die teater bestaan.

Bosman’s Patriots neem die gehoor op ’n multi-media-reis na die hart van Suid-Afrika soos beskou deur die skrywer Herman Charles Bosman. Dit beloof om vlymskerp en skreeusnaaks te wees.

Ghost Story word bemark as Suid-Afrika se eerste teaterriller. Dit gaan oor Jack en Michelle Bouvier, wat na die perfekte paartjie lyk totdat die spoke uit hul verlede opduik, met rillingwekkende gevolge.

Going Gooding behoort ouer radioluisteraars se harte warm te laat klop. Dié ikoniese omroeper sal ’n vermaaklike blik bied op agter-die-skerms gebeure in die goue era van uitsaai.

Hoax is ’n kulkunsvertoning waarvan veral kinders sal hou.

Die sanger Shotgun Tori sal akoestiese folk-musiek maak.

Die Platteland Preview open op 21 Junie met The Bram Fischer Waltz en duur tot 23 Junie.